Afrikaans Bible

MARKUS 3

DIE EVANGELIE VOLGENS MARKUS

Return to Index

Chapter 4

1


 

  En Hy het nog 'n maal by die see begin leer; en 'n groot menigte het by Hom saamgekom, sodat Hy in die skuit geklim en op die see gaan sit het, en die hele skare was op die land by die see.  

 

 

-

2


 

  En Hy het hulle baie dinge geleer deur gelykenisse en vir hulle in sy lering gesê:  

 

 

-

3


 

  Luister! 'n Saaier het uitgegaan om te saai.  

 

 

-

4


 

  En terwyl hy saai, het 'n deel langs die pad geval, en die voëls van die hemel het gekom en dit opgeëet.  

 

 

-

5


 

  En 'n ander deel het op 'n rotsagtige plek geval waar dit nie baie grond gehad het nie; en dadelik het dit opgekom, omdat dit geen diepte van grond gehad het nie.  

 

 

-

6


 

  En toe die son opgaan, is dit verskroei; en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdroog.  

 

 

-

7


 

  En 'n ander deel het in die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik; en dit het geen vrug opgelewer nie.  

 

 

-

8


 

  En 'n ander deel het in die goeie grond geval, en dit het vrug opgelewer; want dit het opgekom, en gegroei, en dit het gedra: een dertig-- en een sestig-- en een honderdvoudig.  

 

 

-

9


 

  En Hy sê vir hulle: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.  

 

 

-

10


 

  En toe Hy alleen was, het die wat saam met die twaalf rondom Hom was, Hom na die gelykenis gevra.  

 

 

-

11


 

  En Hy sê vir hulle: Aan julle is dit gegee om die verborgenheid van die koninkryk van God te ken, maar vir hulle wat buite is, kom alles deur gelykenisse,  

 

 

-

12


 

  sodat hulle kan kyk en kyk, en nie sien nie; en hoor en hoor, en nie verstaan nie, dat hulle hul nie miskien bekeer en die sondes hulle vergewe word nie.  

 

 

-

13


 

  En Hy sê vir hulle: Begryp julle nie hierdie gelykenis nie? En hoe sal julle al die gelykenisse verstaan?  

 

 

-

14


 

  Die saaier saai die woord.  

 

 

-

15


 

  En dit is hulle wat langs die pad is -- waar die woord gesaai word, maar sodra hulle dit gehoor het, kom die Satan dadelik en neem die woord weg wat in hulle harte gesaai is.  

 

 

-

16


 

  Net so ook is hulle by wie op rotsagtige plekke gesaai word -- wat, as hulle die woord hoor, dit dadelik met blydskap aanneem,  

 

 

-

17


 

  maar geen wortel in hulleself het nie; hulle is net vir 'n tyd. Later as daar verdrukking of vervolging kom ter wille van die woord, struikel hulle dadelik.  

 

 

-

18


 

  En hulle by wie in die dorings gesaai word -- dit is hulle wat die woord hoor,  

 

 

-

19


 

  en die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom en die begeerlikhede in verband met die ander dinge kom in en verstik die woord, en dit word onvrugbaar.  

 

 

-

20


 

  En dit is hulle by wie in die goeie grond gesaai is -- hulle wat die woord hoor en aanneem en vrugte dra: een dertig-- en een sestig-- en een honderdvoudig.  

 

 

-

21


 

  En Hy het vir hulle gesê: Die lamp kom tog nie om onder die maatemmer of onder die bed gesit te word nie. Is dit nie om op die staander gesit te word nie?  

 

 

-

22


 

  Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, en daar is niks weggesteek nie of dit moet in die lig kom.  

 

 

-

23


 

  As iemand ore het om te hoor, laat hom hoor.  

 

 

-

24


 

  En Hy het vir hulle gesê: Pas op wat julle hoor; met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word, en daar sal bygevoeg word vir julle wat hoor.  

 

 

-

25


 

  Want wie het, vir hom sal gegee word; en wie nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het.  

 

 

-

26


 

  En Hy het gesê: So is die koninkryk van God, soos wanneer 'n mens die saad in die grond gooi;  

 

 

-

27


 

  en hy gaan slaap en staan op, nag en dag, en die saad spruit uit en word groot -- hoe, weet hy self nie.  

 

 

-

28


 

  Want vanself bring die aarde vrug voort, eers 'n halm, dan 'n aar, dan die volle koring in die aar.  

 

 

-

29


 

  En wanneer die vrug dit toelaat, steek hy die sekel dadelik in, omdat die oes daar is.  

 

 

-

30


 

  En Hy het gesê: Waarmee moet ons die koninkryk van God vergelyk, of met watter soort gelykenis moet ons dit voorstel?  

 

 

-

31


 

  Dit is soos 'n mosterdsaad, wat die kleinste is van al die soorte saad op die aarde wanneer dit in die grond gesaai is;  

 

 

-

32


 

  en wanneer dit gesaai is, kom dit op en word groter as al die groentesoorte en maak groot takke, sodat die voëls van die hemel onder sy skaduwee nes kan maak.  

 

 

-

33


 

  En met baie sulke gelykenisse het Hy die woord tot hulle gespreek volgens wat hulle kon verstaan;  

 

 

-

34


 

  en sonder gelykenis het Hy tot hulle nie gespreek nie; maar afsonderlik het Hy vir sy dissipels alles uitgelê.  

 

 

-

35


 

  En toe dit aand geword het op daardie dag, het Hy vir hulle gesê: Laat ons oorvaar na die ander kant.  

 

 

-

36


 

  En hulle het die skare verlaat en Hom, net soos Hy was, saamgeneem in die skuit; en daar was ook ander skuitjies by Hom.  

 

 

-

37


 

  En 'n groot stormwind het opgekom, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat dit al vol wou word.  

 

 

-

38


 

  Maar Hy was agter op die skuit aan die slaap op die kussing. En hulle het Hom wakker gemaak en vir Hom gesê: Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie?  

 

 

-

39


 

  En Hy het opgestaan en die wind bestraf en vir die see gesê: Swyg, wees stil! En die wind het gaan lê, en daar het 'n groot stilte gekom.  

 

 

-

40


 

  Toe sê Hy vir hulle: Waarom is julle so bang? Hoe het julle dan geen geloof nie?  

 

 

-

41


 

  En 'n groot vrees het hulle oorweldig, en hulle het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam is!  

 

 

-

MARKUS 5

 

 

 

 

HTMLBible Software - Public Domain Software by johnhurt.com

 


Other Items are Available At These Sites: